September 16

Boekklub: Skoenlapper deur Irma Venter

Skoenlapper_reviewSkoenlapper deur Irma Venter
Gepubliseer in 2012
Uitgewer: Human & Rousseau
Genre: Raaisel/Spanning
Bladsye: 328
Bron: Self aangekoop by Exclusive Books
Samevatting:

Alex het ‘n teorie oor chaos. Waar hy ook al gaan, volg dit hom, en dit kom al van lank voor sy joernalisdae af. By ‘n troue iewers tussen Dar es Salaam en Arusha ontmoet Alex vir Ranna, ‘n vryskutfotograaf met ‘n bos swart krulhare en ‘n verlede waaroor sy nie praat nie. En soos gewoonlik haal die chaos vir Alex in. Eers begin dit reën sonder ophou, en dan spoel die lyk van ‘n Amerikaanse IT-biljoenêr op ‘n strand uit. Skielik blyk dit Ranna het rede om haar verlede weg te steek. Waarom anders stel die polisie in haar belang?

Divider

Ek moet bieg… ek is nou nie juis een vir Afrikaans lees nie, maar ek moes net Skoenlapper ‘n kans gee. ‘n Vriendin het my vertel van die boek en toe kom ek agter elke keer wanneer ek by ‘n boekwinkel kom, soek ek Skoenlapper uit. Ek besluit toe om dit te koop en ek moet sê ek was glad nie spyt nie.

Skoenlapper is besonders goed geskryf en op ‘n vlak waar selfs ek nie elke tweede woord in ‘n woordeboek hoef op te soek nie. Dis een van die redes hoekom ek selde Afrikaans lees, soms is dit so geskryf dat mens voel jy het geen begrip oor jou moedertaal nie. Mens kan Skoenlapper net rustig lees en voel hoe die spanning met elke bladsy opbou. Alhoewel die storie my nie dadelik geboei het nie, het ek tog ‘n punt bereik waar ek nie die boek kon neersit nie. Ek móés net weet wat gebeur met Alex en Ranna, met hul onstuimige verhouding en wat is Ranna se groot geheim.

Ek was ook mal daaroor dat die storie uit die perspektiewe van beide hoofkarakters vertel word: Alex en Ranna. Eers leer mens Ranna ken uit Alex se oogpunt en ook hoe sy gevoelens vir haar ontwikkel, en dan skielik ervaar jy dinge uit Ranna se oogpunt en dan kan mens verstaan hoekom sy optree soos sy doen. Dit het uiteraard botsende gevoelens by my uitgelok en vir my ‘n hele ander dimensie tot die verhaal gebring.

Skoenlapper is Irma Venter se debuutspanningsroman en dit het genoeg drama en goeie spanningspunte om jou na die volgende bladsy te forseer. Net wanneer jy dink jy weet wat aangaan, is daar nog n paar verrassings ook. Vir enige iemand wat bietjie Afrikaans weer wil lees, sal ek beslis Skoenlapper aanbeveel. Ek sien self daarna uit om die opvolge, Skrapnel en Sondebok, binnekort te lees – dis op my lang “moet lees” lys. Terloops, albei is alreeds op die rakke.

So die uitspraak is ‘n soliede vier op The Mystery Corner se gradieeringstelsel. Gaan vertel al jou vriende van die spanningsroman en ondersteun ons plaaslike skrywers!
4-Blood_Afr

Het jy Skoenlapper al gelees? Wat het jy daarvan gedink?

Voorspoedige Jagtog!


Tags: , ,

Copyright © 2015. All rights reserved.

Posted September 16, 2014 by Natasha B in category "Afrikaans", "Irma Venter", "Mystery Book Club", "South African Authors

1 COMMENTS :

  1. Pingback: Sondebok deur Irma Venter - The Mystery Corner

What are your thoughts?