December 30

Boekklub: Spoor deur Deon Meyer

photo 1Spoor deur Deon Meyer
Gepubliseer in 2010
Uitgewer: Human & Rousseau
Genre: Spanning
Bladsye: 541
Bron: Verjaarsdag geskenk
Samevatting:
“Dit was die rumour. Hy wil weapons inbring. Vir ‘n attack, hier. Vir die eerste keer.
‘n Muslim attack? In Suid-Afrika?
Ja. Hie’. Cape Town. Die mooiste Kaap.”

Net ‘n gerug. Onwaarskynlik.

Maar waarom skarrel die Presidensiële Intelligensie-agentskap dan so om die besending te onderskep? Waarom bring die CIA hul groot kanonne in?

Waarom trap dit alles so ‘n wye bloedspoor? Deur die lewens van Milla Strachan, verloopte huisvrou, wat net so ‘n biejtie gevaarlik wil leef; Lemmer, die lywag – belieg, bedrieg, besteel, vasbeslote om wraak te neem; en Mat Joubert, wat die onmoontlike moet vermag, die ondersoek na ‘n vermiste moet afhandel voor die geld opraak en die leidrade verdwyn. 

Dalk is dit méér as net ‘n gerug. 

Divider

Wanneer ‘n mens dink aan Afrikaanse spanningsfiksie, dink mens altyd eerste aan Deon Meyer. Dis hoekom dit snaaks is dat ek nog nooit een van sy boeke gelees het nie. Seker maar omdat ek nooit gedink het Afrikaans kan so lekker lees nie. Dis die manier hoe Meyer die taal tot sy voordeel gebruik wat mens vasgenael hou.

Met Spoor voel dit asof mens in die middel van ‘n Amerikaanse spioenasieverhaal vasgevang is. Die Presidensiële Intelligensie-agentskap veg teen tyd om uit te vind wie wat insmokkel en wat dit vir Suid-Afrika se inwoners beteken. Daar is natuurlik ook politieke agendas ter sprake, soos mens kan verwag van enige regeringsinstansie.

‘n Groot gedeelte van die verhaal word vertel uit die oogpunt van Milla Strachan, ‘n verwaarlose huisvrou wat weer haarself wil vind. Milla maak die groot besluit om haar vorige lewe agter te laat en weer deel van die werkende klas te word. Hierdie besluit stuur haar op ‘n pad vol avontuur, een wat die ou Milla nooit vir haarself sou kies nie, maar wat die nuwe Milla met ope arms verwelkom.

Soos ‘n ware spioenasieverhaal het mens nodig om te weet hoe die antagoniste hul operasies befonds. Die storielyn betrek ‘n ou bekende karakter van Meyer, Lemmer (vir die wat hom nie ken nie, kyk gerus na Onsigbaar). Lemmer is ‘n professionele lyfwag tans in Loxton. Hy word onwetend ingesleep in ‘n diamantsmokkelry, gekamoefleer as ‘n swartrenoster smokkeloperasie. Gedurende die rit vanaf die Zimbabwe-grens tot by Loxton is Lemmer belieg, bedrieg en besteel. Die gebeure sit hom natuurlik op ‘n wraakagtige pad wat kruis met die ondersoeke van die Presidentiële Intelligensie-agentskap.

Laastens ontmoet ons vir Mat Joubert, ‘n karakter van Meyer se vroeër roman Feniks. Mat Joubert is ‘n afgetreede lid van die SAPD en volg nou ‘n beroep as ‘n Privaat Ondersoeker. Hy word gekontrakteer om die vermiste eggenoot van Tanja Flint te vind. Dít moet hy doen voor haar geld op raak. Sonder die ondersteuning van die SAPD se forensiese departemente en met min leidrade moet Joubert slimmer werk. Aanvanklik wonder ‘n mens hoe hierdie subplot inpas met die res van Spoor, maar dié vraag word opgeklaar teen die einde. As ek eerlik moet wees, die gedeelte van Spoor was vir my nie so spanningsvol soos die res van die boek nie. Die gedeelte klaar wel die uiteinde van twee van die karakters op maar bring nie veel lig tot die gebeure met Lemmer en Strachan nie. As leser sou ek kon klaar kom sonder die gedeelte.

As ‘n geheel het ek Spoor verskriklik baie geniet. Meyer het ook die wese en kultuur van elke karakter baie mooi oorgedra deur gebruik te maak van Afrikaanse, Kaapse Afrikaans en Engelse dialoog. Ek kon selfs die swart karakters uitken, met die enkele woorde van die swart tale wat ingegooi word. Dis ‘n aspek wat ek dink dalk verlore mag gaan met die Engelse vertaling.

Spoor is beslis baie spanningsvol en mens wil dit glad nie neersit nie, inteendeel ek het meeste van die tyd op die punt van my stoel gesit en met angs gewonder wat volgende gaan gebeur. The Mystery Corner gee Spoor dus ‘n verdiende vier en ek kan nie wag om nog ‘n Deon Meyer in die nuwe jaar te lees nie.

4-Blood_Afr

Het jy al Spoor gelees of enige ander Deon Meyer boek? Wat is jou gedagtes?

Voorspoedige Jagtog!

 

 


Tags: ,

Copyright © 2015. All rights reserved.

Posted December 30, 2014 by Natasha B in category "Afrikaans", "Deon Meyer", "Mystery Book Club", "South African Authors

What are your thoughts?