February 21

Seisoen van Sonde deur Chris Karsten

Seisoen van SondeSeisoen van Sonde deur Chris Karsten
Gepubliseer in 2009
Uitgewer: Human & Rousseau
Genre: Spanning
Bladsye: 333
Bron: Self aangekoop by Exclusive Books
Samevatting:
“Op die hakke van die wykende storm dryf aanlandige winde, nou meer bedaard, ’n lae misbank oor die kus. Uit hierdie newels doem twee oesterplukkers vroeg die Saterdagoggend op uit die rigting van Swartvlei se monding. 
Een kom skielik orent, roep na sy maat. Hy wys na die dynsige figuur teen die paal by die duin. Hy meen dit is iemand wat op die vroëe oggend daar rus, met sy rug teen die paal, gesig na die see. Hulle eerste instink is die hasepad. Maar ’n inspekteur kan dit nie wees nie, nie met hare wat so lank en blond in die wind warrel nie. Die stil figuur kan hulle nou uitmaak. ’n Kaal vrou. Haarslierte gekoek van sand en sout en wind. In hoogwater moes die branders oor haar gebreek het. Haar vel het die kleur van lood, asof sy aan erge koue blootgestel, of dood is.”

Die polisie soek na ’n reeksmoordenaar. Die eerste lyk, die van ’n vrou, is na ’n storm op die rotse gevind – vasgebind aan ’n paal en met haar mond toegewerk. Die lyke wat volg, is elk op nog meer bisarre wyse agtergelaat. Die moordenaar, Jack, is sistematies besig om mense te elimineer vir sy enigmatiese meester, Minos. Die laaste slagoffers op Jack se lys is Wim, ’n skoenlapperboer naby Wildernis, en sy assistent, Portis. Albei het in die apartheidsjare te doen gehad met ’n regeringsprojek genaamd Antenor. 

Divider

“Sy prooi is op twee foto’s, ’n man, vet en nie meer jonk nie, miskien al sewentig.”

Met ’n openingsin soos die, wie kan nie net wonderlike dinge verwag van die roman nie. Dit het al die elemente van ’n briljante spanningsverhaal – ’n reeksmoordenaar, ’n geheime regeringsprojek en verskuilde agendas. Seisoen van Sonde is Chris Karsten se tweede roman en het ook die ATKV prys vir Spanningslektuur in 2010 gewen.Quote1 copy

Seisoen van Sonde word weergegee uit die oogpunt van vier karakters: Jack, Minos, Wim en Portis. Daar is gedurig terugflitse na die verlede om die konteks en motiewe van elke karakter beter te verstaan. Dit voel soos ’n lang rit van verkenning en teen die einde empatiseer ek baie met Jack, al is hy die moordenaar. Dit is duidelik dat Minos die poppespeler is en Jack – maklik beïnvloedbaar as gevolg van sy harde lewe – Minos se pop.

Minos, ’n dokter, was die hoof van die Neurofarmakologiese navorsingsafdeling van die geheime regeringsprojek, Antenor. Hier het hulle geheime navorsing gedoen in die apartheidsjare om nie net mee te ding met eerstewêreldlande nie, maar ook om te help met die geveg teen die plaaslike “struggleleiers”.

Wim was ’n navorser op projek Antenor en eens ’n lid van die gesogte binnekring, waarvan Minos deel was. Uitgesluit deur die binnekring omdat hulle Wim nie as waardig beskou nie lei dit na die ontmoeting van Portis. Portis het grootgeword op die Kaapse vlaktes en is deel van ’n beginnersel wat baklei teen apartheid. Een aand op pad na ’n ontmoeting van sy sel verdwyn die jong man in die middel van die nag. Nie lank daarna verdwyn die res van Portis se sel en hul staan later bekend as die Vlakte Vyf. Wim en Portis boer nou met skoenlappers en word in die middel van ‘n moordondersoek ingetrek na ‘n skoenlapper papie gevind word in een van die slagoffers.

Alhoewel die roman se naam, Seisoen van Sonde, en die opsomming op die agterblad net nuuskierigheid by my opgewek het, het die storielyn vir my baie stadig ontvou. Die verhaal was verskriklik interessant ten spyte van die stadige progressie, maar Karsten het nie vir my die spanningspunt heeltyd behou nie. Ek kon die roman menigde kere neersit en gevolglik het dit my meer as ’n maand gevat om klaar te maak.

Karsten gebruik ’n baie hoër vlak van Afrikaans as waaraan ek gewoond is, veral wanneer ek dit vergelyk met die skryfstyl van Irma Venter en Deon Meyer. Persoonlik geniet ek ’n boek meer as ek nie nodig het om sinne oor te lees nie. Ongelukkig was dit my ervaring met Seisoen van Sonde.

The Mystery Corner gee dus vir Seisoen van Sonde drie bloedspatsels. Ek het die roman geniet, maar ongelukkig was die gebrek aan behoude spanningspunte en die taalgebruik vir my ’n teleurstellende ervaring. Daar is ’n Engelse vertaling van Abel se Ontwaking (Skin Collector) in my ‘moet nog lees’ hopie wat moontlik my opinie kan verander oor Karsten se skryfstyl. Ek is redelik seker ‘n Engelse vertaling sal vir my beter lees, wie weet…

Het jy al een van Chris Karsten se boeke gelees? Wat is jou gevoel?

Voorspoedige jagtog!


Tags: , ,

Copyright © 2015. All rights reserved.

Posted February 21, 2015 by Natasha B in category "Afrikaans", "Chris Karsten", "Mystery Book Club", "Reading Challenges

2 COMMENTS :

  1. By Elmien on

    Baie dankie dat jy dit so interessant uiteen gesit het…ek het dit geniet om weer in Afrikaans my verbeelding vry teels te gee….

    Reply
    1. By Natasha B (Post author) on

      Ag ek is bly dat jy dit so geniet het! Baie dankie dat jy so in loer hier by my ou boekwinkeltjie… :)

      Reply

What are your thoughts?